skip to content

Site in English  

Nog 'n SA rekord - 333 ramme verkoop!

Nog ‘n SA rekord tuimel op Konsortium-Merino se turf. Die groep het op hul 24ste produksieveiling ‘n nuwe SA rekord opgestel deur die meeste ramme op een Merinoveiling te verkoop. Altesaam 377 ramme is aangebied, waarvan 333 op 21 Februarie teen ‘n gemiddeld prys van R5 230 verkoop is. Die vorige SA rekord was 314 ramme wat Konsortium-Merino in September 2010 verkoop het.

Altesaam 1 122 ramme, gebore uit ‘n groep van sowat 3 500 ramlammers, is vir die 24ste produksieveiling ingeskryf en op natuurlike veldtoestande getoets. Uiteindelik is 377 vir die veiling gekeur. Dit is skaars 11% van die oorspronklike groep. “Ons jaag nie getalle nie. Moeder Natuur klas ons skaap en die finale hand-oog-seleksie is streng om gehalte te verseker,” sê Gawie van Heerden, Konsortium-Merinoteler.

Nelis en Delphius Symington van die plaas Van der Waltskraal, Sutherland, het die hoogste prys van R37 000 vir ‘n poenskopram betaal. Die 1 346 ooie op die veiling is teen gemiddeld R1 136 stuk verkoop, met ‘n hoogste prys van R1 600 per ooi vir dragtige handelsmerkooie.

Vanjaar het die groep op vyf veilings in Februarie 670 ramme onder die handelsmerk aangebied en 613 teen gemiddeld R5 022 verkoop.

Konsortium-Merino spog ook met die huidige SA rekordomset vir ‘n Merinoramveiling. Dit is R1 787 600 vir 285 ramme wat die groep op hul 23ste veiling in September 2012 teen ‘n gemiddelde prys van R6 272 verkoop het. Die groep het die SA rekord vir omset reeds agt keer verbeter sedert hul eerste veiling in 2001.

Sowat 300 besoekers van oor die land heen ondersteun die jaarlikse veilings op Dombietersfontein. Konsortium-Merino se kopers is die beste gestuigskrif vir hul skaap, meen Van Heerden. “Hulle is lojale kopers, wat keer op keer terugkom vir meer.”

Sien Alle Nuus

Vorige bladsy  |  Terug na bo  |  Site in English  |  
Powered by Invoices Online