skip to content

Site in English  

Gooi katalogus weg

Gooi katalogus weg
 

"Die kuddeboer kan maar sy katalogus weggooi en toe-oë 'n bakkievrag ramme kom koop. Dit is die eenvormigste span ramme nóg wat Konsortium-Merino gaan aanbied."

Só gesels Gawie van Heerden, Konsortium-Merinoteler, oor die 132 ramme wat op Lentedag, 1 September 2005, op Konsortium se negende produksieveiling onder die hamer kom. Hy meen díe ramme sal in enige Merinokudde 'n verskil maak.

Derick Erasmus van Stutterheim, wat al sedert 2001 Konsortium-ramme koop, getuig sy skaap is deesdae groter en gladder, en waarborg hom elke agt maande 'n goeie B-lengte wol. Die wol is baie minder "gepak". Sy skeerrekords bevestig egter hy skeer nie minder wol nie. "Ek het in die verlede 'n C vir 'n B-lengte geklas. Vandag besef ek wat is goeie wollengte."

Derick erken hy het fynwol nagejaag en die verkeerde tipe het sy lampersentasie tot 67% laat daal. Sy Merino-oes van September 2004 spog egter met 'n lampersentasie van 112%. Díe lammers is in Januarie 2005 op vier maande van die veld af gespeen, en die swaarstes het die skaal tot 42kg laat klim. Te danke aan die Konsortium-Merinotipe weeg sy lammers op 12 maande ouderdom gemiddeld 8kg swaarder as in verlede.

Les Ekron van Barkly-Oos, sê die eerste Konsortium-Merinoramme wat hy in 2001 gekoop het, draf nou nog in sy span. "Hulle het in my bergwêreld aangepas en is gehard. Ek het nog nie een verloor nie."

'n Pluspunt van die Konsortium-tipe is die besparing in voerkoste wat dit op sy plaas teweeg gebring het. Sy wolkwaliteit het beslis ook verbeter. Op CMW se Februarie '2005-wolveiling het sy lammerwol die naasbeste prys behaal.

Op 'n onlangse kuddekompetisie in sy distrik is een van sy jong ooie as kampioen gekroon en nog ene het die derde plek volgestaan. Les is ook trots op die hammels wat hy deesdae bemark.

Anton Lombaard van Britstown, meen as gevolg van die Konsortium-inspuiting op sy plaas is sy Merino's vandag vrugbaarder en word minder deur brommer-aanvalle geteister. Hy erken graag "ek is lief vir my Merino's." Die gemak waarmee hy deesdae met sy Merinoskaap boer, het hom oortuig om sy Dorperkudde op sy veepos met díe tipe te vervang.

Konsortium-Merino het 257 ramme vir sy September-veiling prestasietoets. Die span se gemiddelde veseldikte was 17.3 mikron. Kobus Vivier, Willie Kotze en Bennie Steenkamp, almal van BKB, het na 'n streng keuring 132 ramme vir die veiling geselekteer. Díe ramme het op 22 Julie 2005 gemiddeld 78kg (swaarste 84kg) geweeg, 'n gemiddelde veseldikte van 18.5 mikron (fynste 16.3 mikron; sterkste 21.3 mikron) gehad en met 'n gemiddelde skoonopbrengs van 70% (hoogste 79%) gespog. Daar lê nog meer as 'n maand se groei vir die ramme voor. Kom kyk hoe lyk hulle op Lentedag!

Sien Nuus Argief

Vorige bladsy  |  Terug na bo  |  Site in English  |  
Powered by Invoices Online