skip to content

Site in English  
Voerkraal vir Konsortium

Voerkraal vir Konsortium

Konsortium-Merino se droom, om sy lede deel te maak van die waardeketting van die produk wat hul produseer, kry nou ook gestalte deur sy eie voerkraal.

Die eerste 400 KM-lammers is in Januarie 2010 by die Konsortium-Merinovoerkraal op die plaas van Johan Greyling in Christiana afgelaai, en nog 400 volg in Februarie 2010. Braam Coetsee, KM besturende direkteur, sê in díe proeffase gaan hul die regte rantsoen, vloei en bestuur uitsorteer. As die kraal volstoom werk, sal dit 20 000 lammers vier keer per jaar kan hanteer.

KM boere sal aanvanklik die keuse hê om of sy stoorlam aan die voerkraal te verkoop, of die voerkraal vir staan- en voerkoste te vergoed (kontrakvoer), wat van die slagprys verhaal sal word. Ons wil uiteindelik ons vleis uit die kraal, onder ons handelsmerk verpak en op die winkelrak verkoop, sê Gawie van Heerden, KM direkteur openbare betrekkinge.

Konsortium-Merino het in 2009 die land deurkruis om voerkrale bewus te maak van die groep en die eenvormige gehalte lam wat lede produseer. Terselfdertyd is KM se potensiaal aan groothandelaars en supermakte voorgelê om ‘n potensiële vraag na ons produk te skep. Die span het geleer die vleisbedryf stoei om ‘n volhoubare produk van gehalte te werf. Swak produkte word vir goeie geld verkoop.Te dikwels ry stoorlammers by ‘n plaashek uit, en die boer weet nie waarheen die vrag oppad is en op watter winkelrak sy vleis gaan beland nie.

Die uitdaging vir KM is om betrokke te raak by sy produk, die waardeketting te verkort en uiteindelik ‘n premie vir gehalte te verdien. Om dit te kan doen, moet KM ‘n verhouding bou met uitgesoekte rolspelers en gehalte volhoubaar voorsien. KM boere moet saam met die reg op die handelsmerk, ook die verantwoordelikheid aanvaar om dit te beskerm.

Sal dit nie lekker wees nie om in die toekoms vir vriende en verbruikers te kan vertel waar om jou vleis te gaan koop? Dit gebeur dalk net gouer as wat julle dink.

Sien Alle Nuus

Vorige bladsy  |  Terug na bo  |  Site in English  |  
Powered by Invoices Online