skip to content

Site in English  
SA rekordomset 5 keer in 'n ry

SA rekordomset 5 keer in 'n ry

Konsortium-Merino neem weer die voortou. Op hul afgelope Februarie-veiling het die telers 311 ramme verkoop teen ‘n gemiddelde prys van R5 050 vir hul vyfde agtereenvolgende SA rekordomset vir ‘n Merinoramveiling.

Die span het waagmoed aan die dag gelê deur 373 ramme aan te bied in ‘n tyd waarin boere droogte, swak produkpryse en hoë rentekoerse moes trotseer. Die Helmsman-veilingstyl, wat veral in Australië gewild is, is ingespan om díe groot groep ramme op een dag aan te bied. Mnr. Gawie van Heerden, Konsortium-teler, sê die hoofdoel was om meer ramme teen bekostigbare pryse aan hul kopers beskikbaar te stel.

Meer as 30 jaar gelede is daar naastenby soveel ramme op ‘n Merinoveiling in Suid-Afrika verkoop. Mnr. Danie Vorster, bestuurder van MerinoSA, sê Konsortium-Merino se aanbod van 373 ramme deur vyf telers is merkwaardig. “Hulle het van ‘n beskeie 78 ramme in 2001 tot die huidige toegeneem en die aanvraag groei steeds. Hulle kom nou met nog ‘n inoverende gedagte te voorskyn om die groot aanbod op een dag te verkoop.”

Op Konsortium se 16de produksieveiling is 154 ramme oudergewoonte in die skeerhok op Dombietersfontein verkoop. Die hoogste prys was R26 000 deur mnr. Jannie van Wyk van Rooikop-boerdery, Fraserburg, betaal. Daarna het die kopers na buite beweeg waar 219 ramme volgens die Helmsman-styl aangebied is.

Dit is ‘n “stil”-veiling waar ramme op grond van tipe en gehalte in groepe van twee, drie en vyf saam aangebied word. Boere kan deurlopend ‘n bod op enige van die krale plaas en op ‘n ander se bod verbeter. Die hoogste bod en kopernommer vir elke kraal is op ‘n bord sigbaar. Die Helmsman-veiling duur sowat ‘n uur. Indien daar twee of meer kopers is wat teen die einde van die veiling oor van die ramme kopstamp, sal die afslaer ‘n dispuut verklaar en díe groepe normaalweg opveil.

Mnr. Van Heerden meen hul waagstuk was ‘n stap in die regte rigting. Hulle gemiddelde prys het van R7 333 (September 2008) na R5 050 gedaal. Kopers het dus daarby gebaat en Konsortium sal beslis voortbou op hul Helmsman-veiling. Die span skryf sowat 800 ramlammers uit ‘n groep van 1 600 ramlammers vir elke veiling in. Die mikpunt is om voortaan 400 ramme op elke veiling aan te bied. Die seleksie is groot en verseker gehalte.

Sien Alle Nuus

Vorige bladsy  |  Terug na bo  |  Site in English  |  
Powered by Invoices Online