skip to content

Site in English  
Die beste veiling nog!

Die beste veiling nog!

Uitverkoop! Al 310 ramme op Konsortium-Merino se 17de produksieveiling, 3 September 2009 op die plaas Dombietersfontein, Victoria-Wes, is teen ‘n gemiddelde prys van R5 199 vir nog ‘n nuwe SA rekordomset vir ‘n Merinoramveiling verkoop.

Fanie Griesel van Springfontein sê “die veiling was ‘n doodskoot.” Die bemarkingstema, Sien is glo, het waar geword want al die ramme is teen nog beter pryse as voorheen verkoop - tog kon die kuddeboer steeds 150 goeie ramme teen bekostigbare pryse (R3 500 gemiddeld) op die Helmsman-deel van die Konsortium-veiling koop.

Die hoogste prys was R34 000. Dit is deur die broers Hennie en Isak van Heerden, en Jannie Olivier, almal van Victoria-Wes, betaal. Boetie van der Westhuizen en Melt van den Heever van Loxton het saamgespan om ‘n ram teen die naashoogste prys van R28 000 te koop. Al 722 ooie op die veiling is teen gemiddeld R934 stuk verkoop. Die hoogste prys was R1 025 vir Konsortium-goedgekeurde tweetand-ooie.

Dit is die groep se eerste veiling sonder die hulp van ‘n makelaar, nadat BKB in Junie 2009 bekendgemaak het hulle verkies om nie meer KM se veilings aan te bied nie. Die aankondiging is gemaak kort nadat Konsortium-boere se eerste wol aan Segard Masurel gelewer is. Karoo Vleisboere Koöperasie (KVB) van Victoria-Wes het die kans aangegryp om die veiling-administrasie te behartig en Jakkie Nel, Konsortium-Merino se boerementor van Somerset-Oos, was die afslaer.

Kiepie Pienaar van Dewetsdorp meen private inisiatief het geseëvier en die aanvraag was groter as die aanbod. “Die ramme was tops, die veiling is professioneel aangebied en die diens was flink.” Hy was verras deur die talle nuwe kopers op die veiling, wat net wereens bewys Konsortium-Merino wen veld in die bedryf.

Braam Coetzee, besturende direkteur van Konsortium-Merino, sê “die veiling was ongelooflik.” Hy skryf Konsortium se sukses toe aan ‘n goeie produk en harde werk om dit oral-oor te bemark. Konsortium besoek sy kliënte persoonlik en as die boer by die KM-groep aansluit voeg Konsortium waarde toe tot sy boerdery d.m.v ram- en ooiseleksie, raad oor kuddebestuur, vee-monitering en met vergelykende syfers. “Ons kliënte is opgewonde oor die Konsortium-Merino. Die feit dat die vraag die aanbod oorskry, bewys dat hulle graag ons ramme wil gebruik. Ons kliëntetal groei, want daar is vertroue in ons ramme wat landswyd boere se kuddes verbeter.”

Konsortium-Merino verkoop jaarliks die meeste Merinoramme op amptelike veilings in SA. Die groep het vanjaar 683 ramme op drie veilings verkoop. Hulle glo in veldaangepaste ramme en daarom word al die ramlammers tydens prestasietoetsing aan natuurlike veldtoestande onderwerp. Moeder Natuur doen eerste die klaswerk en daarna word die ramme deur twee bekwame wolskaapkenners, Phil van der Merwe en Cobus Vivier, geselekteer. Die span begin met meer as 1 500 ramlammers om sowat 350 ramme op elke veiling aan te bied. Hand-en-oog evaluasie en prestasiedata word ingespan om uiteindelik die beste ramme vir elke veiling te kies.
 

Sien Alle Nuus

Vorige bladsy  |  Terug na bo  |  Site in English  |  
Powered by Invoices Online