skip to content

Site in English  

BKB breek bande met Konsortium

Skaars ‘n week nadat Konsortium-boere hul eerste wol aan die koper, Segard Masurel (SM), gelewer het, het BKB bekend gemaak dat hy nie meer Konsortium-Merino se veilings op Dombietersfontein, Victoria-Wes, gaan aanbied nie.

Mnr. Braam Coetzee, Konsortium se besturende direkteur, het sy teleurstelling uitgespreek oor BKB se drastiese besluit. “Konsortium het van die begin af met BKB en sy veldbeamptes saamgewerk. Dis jammer hul neem so ‘n besluit. Alle BKB veldbeamptes is nog welkom op ons veilings,” het Coetzee gesê.

Konsortium Merino se twee jaarlikse produksieveilings, wat BKB reeds vir jare aanbied, is die grootste Merino-veilings in die land. Mnr. Jacobus le Roux, BKB se bestuurder: vesel, het op 25 Mei op ‘n vergadering met Coetzee, aangekondig sy maatskappy gaan voortaan nie meer Konsortium-Merino se veilings aanbied nie.

Coetzee sê die hoofredes wat BKB gegee het, was dat hy nie aan Gawie van Heerden, Konsortium-direkteur, se verwagtinge as aandeelhouer kan voldoen nie, dat BKB nie daarmee gediend is dat Konsortium sy personeellede werf nie; en dat hy nie daarvan hou dat Konsortium kollektief vir sy lede beding nie.

Aan Landbouweekblad het Le Roux gesê BKB se optrede is spesifiek teen Van Heerden as individu gerig. “Ons sakeverhouding met Van Heerden word gestaak. Daarom kan ons nie meer sy veiling behartig nie. Dit gaan oor geen ander naam of onderneming nie, net oor Gawie.” Die res van Konsortium se lede is steeds gewaardeerde BKB-kliënte, sê hy.

Van Heerden, van die plaas Dombietersfontein, Victoria-Wes, was van meet af aan die groot dryfkrag agter Konsortium-Merino. Die groep beywer hom vir die bemarking van Konsortium-lede se wol en vleis onder die handelsmerk, en probeer om kollektief laer koste vir sy boere te beding.

Le Roux sê BKB kan nie gedifferensieerde tariewe (soos wat Konsortium vir sy lede probeer beding) aan klante toestaan nie. Volgens hom is redes vir die BKB-besluit Konsortium se lewering van wol aan ‘n BKB-mededinger (met verwysing na die wolkoper SM wat ‘n voorkeur-aanbod aan Konsortium-lede gedoen het en nou saam met die makelaar SBL wolveilings hou) en Van Heerden se beweerde pogings om BKB-veldbeamptes te werf.

Coetzee sê Cobus Vivier is die enigste oud BKB-veldbeampte in diens van Konsortium. Hy is in 2007, met die medewete van BKB, aangestel. “Geen BKB-veldbeampte is die afgelope twee jaar vir Konsortium gewerf nie. Konsortium wil eerder boerementors aanstel.”

SM het op 1 Mei ‘n premie-aanbod vir Konsortium-wol gemaak. Een opsie is direkte lewering van spesifieke tipes vir verwerking in Segard se meule in Uitenhage. Die alternatief is bemarking deur ‘n twee-weeklikse SM-veiling in Port Elizabeth. Die eerste Konsortium-wol wat by díe aanbod gebaat het, is op 20 Mei by SM afgelaai.
 

Sien Alle Nuus

Vorige bladsy  |  Terug na bo  |  Site in English  |  
Powered by Invoices Online