skip to content

Site in English  
Goed...Beter...BESTE!

Goed...Beter...BESTE!

Net toe ons dink Konsortium-Merino kan nie nog beter vaar nie - oortref die span weer almal se verwagtinge. Al 201 ramme is op hul 14de produksieveiling teen 'n gemiddelde prys van R6 883 vir nog 'n nuwe rekordomset van R1 383 450 verkoop.

Konsortium-Merino het op sy afgelope veiling Suid-Afrika se rekordomset vir 'n Merinoramveiling vir die derde keer in 'n ry verbeter. Die hoogste prys was R31 000. Albert van Heerden van Van Vuurenshoek, Hofmeyr, Lourens van Heerden van Bella Vista, Tarkastad, en Michael Lord van Souverein, Hofmeyr, het saamgespan om díe silwermeriete ram te koop.

Hennie Coetzee en Altus Geldenhuys van Steynsburg het die naashoogste prys van R27 000 betaal. Kort op hul hakke is twee ramme teen 'n gemiddelde prys van R25 000 elk verkoop. Die kopers is onderskeidelik Kosie van der Merwe van Tweerivier, Sutherland, en Neville Grobler van Zonderhout, Springfontein.

Meer as helfte van die Konsortium-ramme is vir minder as R7 000 verkoop. Altesaam 31 ramme het R3 000 en minder behaal, 43 ramme is vir R3 100 tot R5 000 verkoop en op 59 ramme is die bod van R5 100 tot R7 000 toegeslaan. Vir 44 ramme is R7 100 tot R10 000 betaal, 13 ramme is van R10 100 tot R15 000 verkoop en 11 ramme het vir meer as R15 000 baas gekry.

Die 1 271 ooie op die veiling is teen gemiddeld R953 stuk verkoop met ?n hoogste prys van R1 750 per ooi vir dragtige volbek-stoetooie. Konsortium se vorige hoogste gemiddelde was R6 763 vir 187 ramme op hul 13de produksieveiling verkoop.

Meer as 300 besoekers van heinde en verre het die afgelope veiling op 14 Februarie op Dombietersfontein bygewoon. Valentynsdag het ook heelwat van die skoner geslag na die veiling gelok. Die gaste het gesellig onder die bome gekuier. 'n Ligte reënbui het tydens die veiling vir 'n wyle uitgesak en die Karoowêreld lekker afgekoel. Konsortium-Merino wil graag dankie sê aan almal wat van hul 14de veiling 'n reuse sukses gemaak het. BKBLouwid was die afslaers.
 

Sien Nuus Argief

Vorige bladsy  |  Terug na bo  |  Site in English  |  
Powered by Invoices Online