skip to content

Site in English  
Konsortium-Merino verpletter rekord

Konsortium-Merino verpletter rekord

Suid-Afrika se rekordomset vir 'n Merinoramveiling is op Konsortium-Merino se 13de produksieveiling verpletter toe díe telers hul vorige rekord met R147 550 verbeter het.

Altesaam 187 Konsortium-ramme is almal teen 'n gemiddelde prys van R6 763 vir 'n nuwe rekordomset van R1 264 700 op die plaas Dombietersfontein, Victoria-Wes, verkoop. Dit is slegs die derde Merinoveiling in die geskiedenis, wat die R1 miljoen-kerf kon verbysteek. Die vorige hoogste was R1 117 150 op Konsortium-Merino se 12de produksieveiling in Februarie behaal, toe 199 ramme verkoop is.

Die hoogste prys op die groep se afgelope Lenteveiling was R40 000 vir 'n meriete ram. Díe ram met 'n voorspelde BLUP-teelwaarde van 5.1kg vir liggaamsmassa, is deur twee boere van Loxton gekoop. Hulle is Melt van den Heever van die plaas Duikerfontein en Boetie van der Westhuizen van De Hoop.

Die naashoogste prys van R36 000 is vir 'n silwermeriete ram betaal. Die kopers is Michael Lord van die plaas Souverein, Hofmeyr en die broers, Lourens van Heerden van Bella Vista, Tarkastad en Albert van Heerden van Van Vuurenshoek, Hofmeyr.

Kort op hul hakke was nog 'n span boere van Hofmeyr, wat 'n silwermeriete ram teen die derde hoogste prys van R34 000 gekoop het. Hulle is Tommy Roux en sy seuns, Piet en Jakkals Roux, Pierre en Kobus Marais, Matt Philps en Johan Froehlich.

'n Baie gelukkige man op Konsortium se 13de veiling was Herman Venter van Philipstown, wat 'n motorfiets, die Honda Bushlander, ryker geword het. Sowat 340 besoekers van oor die land heen het die veiling bygewoon. Die 2 088 ooie is teen 'n gemiddelde prys van R859 verkoop. Die hoogste prys was R1 400 stuk vir dragtige stoetooie. 

 

Sien Nuus Argief

Vorige bladsy  |  Terug na bo  |  Site in English  |  
Powered by Invoices Online