skip to content

Site in English  
Nog 'n keurveiling vir die Merino

Nog 'n keurveiling vir die Merino

Op die eerste gesamentlike veiling van Konsortium-Merino en Landbouskool Marlow is 56 ramme teen 'n gemiddelde prys van R4 111 by die Marlow-klubhuis verkoop. Díe veiling het die potensiaal om hom as een van Suid-Afrika se keur Merinoveilings te vestig.
 
Die hoogste prys van R16 000 is deur boere van Hofmeyr betaal. Hulle is Matt Philps van Grootdam, Tommy Roux van Allemansvlei en sy seuns, Piet en Jakkals, Pierre Marais van Vrolikskraal en sy seun, Kobus, en Johan Froehlich van The Pines. Die naashoogste prys van R14 500 is op 'n bod van Hendrik en Billy van Zyl van die plaas Montague, Cradock, toegeslaan.
 
Braam Coetzee, BKB Cradock, sê die eerste gesamentlike veiling het uitstekend afgeloop. Alles dui daarop dat hierdie geleentheid homself as een van Suid-Afrika se gesogte Merinoveilings kan vestig. Hy meen die ramme se wolkwaliteit was tops, maar hulle kon net nog swaarder geweeg het. Kopers met wie Braam gesels het, is in hul skik met die aanbod en beloof om weer te kom en nog meer ramme te koop.
 
Van die 61 ramme wat aangebied is, was 28 ramme Konsortium-nageslag van die skool se Merinokudde en 33 ramme suiwer geteelde Konsortium-Merino's. Die Konsortium-ramme is op jaarouderdom na Marlow verskuif, sodat hulle saam met hul stalmaats, onder dieselfde omstandighede, vir die veiling voorberei kon word. Die eerste tree oppad na díe gesamentlike veiling is reeds in April 2005 gegee, toe Marlow se hele kudde, van sowat 500 ooie, met die saad van 10 Konsortium-stoetramme geKI is.

Sien Nuus Argief

Vorige bladsy  |  Terug na bo  |  Site in English  |  
Powered by Invoices Online