skip to content

Site in English  
  • Hoogste prys R80 000Hoogste prys R80 000 picture

    Op Konsortium-Merino se 30ste produksieveiling, 18 Februarie 2016, is die ram vir die hoogste prys ooit verkoop. Hy het R80 000 behaal.

  • Verbeter SA rekord op 32ste veilingVerbeter SA rekord op 32ste veiling picture

    Al 353 ramme is teen ?n gemiddelde prys van R8 418 verkoop. Hiermee verbeter Konsortium-Merino sy huidige SA rekordomset vir ?n Merinoramveiling na R2 971 400.

  • Belê in ooi-eenhedeBelê in ooi-eenhede picture

    Koop Konsortium Merino ooi-eenhede. Dis 'n veilige belegging in vee, sonder om by die bestuur van 'n boerdery betrokke te raak

  • Verander ratte van prysnemer na prysgewer

    2014-02-13

    Prof. Eckart Kassier het in 1994 reeds voorspel vanjaar gaan net 30 000 boere oor wees. Toentertyd het menige boer gedink die prof is koekoes, maar vandag is ons net soveel. Kwyn is ons voorland as ons nie...

  • Geloof soos wolGeloof soos wol picture

    Angus Buchan dra sy 100% trots Suid-Afrikaanse, Konsortium-Merino wolbaadjie met vreugde.

  • From sheep to shop

    2012-03-28

    Life is like riding a bicycle. To keep your balance, you must keep moving...

View All News  |  View Archived News

Verander ratte van prysnemer na prysgewer

In 1960 was daar sowat 300 000 boere in Suid-Afrika. Prof. Eckart Kassier, voormalige hoof van die Departement van Landbou aan die Universiteit van Stellenbosch, het in 1994 reeds voorspel vanjaar gaan net 30 000 boere oor wees. Toentertyd het menige boer gedink die professor is koekoes, maar vandag is ons net soveel. Die voorspelling is dat die getal boere in die volgende dekade na 7 000 gaan krimp. Kwyn is ons voorland as ons nie daadwerklik planne gaan maak om in ‘n veranderende landboubedryf staande te bly nie.

Die redes vir die agteruitboer is legio:

  • Ons bemark ons produkte te goedkoop;
  • Ons is prysnemers en nie prysmakers nie;
  • Ons verloor beheer oor ons produk as dit by die plaashek uitry;
  • Ons koop te duur aan;
  • Ons produk het nie ‘n indentiteit en reputasie (handelsmerk) nie;
  • Ons het nie skaal van ekonomie nie;
  • ‘n Individule boer kan nie kollektief beding nie; en
  • Op ons eie kan ons nie ons sosiale verantwoordelikhede na regte nakom nie.

Vandag se boer aanvaar die lomp en duur omgewing waarin hy sy produkte moet bemark, as sy lot.  Hy kla en skop stof op in die kraal, maar probeer nie om die agent-op-agent-kanaal te troef nie.

Wat gaan jy doen om oor 10 jaar relevant te wees - een van daardie 7 000 boere wat ‘n verskil in Suid-Afrika maak?

Konsortium-Merino het die uitdaging aanvaar. Ons het buite die boks gaan wei en planne in plek gestel om in die nuwe lanbou-omgewing te oorleef. Vandag ry ons nie net op gebaande landbouweë nie, maar verken afdraaipaaie en plavei nuwe roetes om ons bestemming te bereik. Die lewe is soos om fiets te ry. Om jou balans te behou, moet jy aanhou beweeg.

Konsortium-Merino is 'n boerbeheerde kleinveehandelsmerk in Suid-Afrika. Benewens die voorsiening van meerderwaardige genetika, wol en vleis onder die Konsortium-handelsmerk, fokus ons groep daarop om die waardeketting vir ons boere te verkort en langs die pad waarde tot ons produkte te voeg.

VORM 'N GROEP

Sedert 2007 het ons boere aangemoedig om as lede by Konsortium-Merino aan te sluit. Ons groep is vandag 138 boere sterk met meer as 200 000 produserende ooie in ons stal.

Ons het ons eie skaap-en-wol raadgewers wat waarde toevoeg tot ons boere se besighede. Hulle moet die Konsortium-tipe op ons boere se plase vestig en beskerm tot voordeel van almal in die groep. Boere-mentors staan ook ons lede met raad en daad by om hul kuddes te verbeter. Hulle help met ooi-seleksie, die keur van ramme en gee raad oor veld- en kuddebestuur.

SKEP 'N HANDELSMERK

Om ‘n produk sonder ‘n handelsmerk te verkoop, is so goed jy stel iemand sonder ‘n gesig bekend. Konsortium-Merino het ‘n handelsmerk gevestig wat kwaliteit waarborg en in aanvraag is. Konsortium-wol word bv. onder ons handelsmerk op wolveilings geïdentifiseer. Vink Venter van SMZA getuig as Konsortium-skeersels opgeveil word, is daar “sommer ‘n oplewing in die wolbeurs”, want ons skeersels is sinoniem met egaligheid en gehalte.

Ons voer Konsortium-Merinowol direk na Europa uit. Die handelsmerk waarborg ‘n kode van beste praktyke, want ons boere pas etiese dierebestuur en volhoubare boerderymetodes toe.

GEBRUIK MOEDER NATUUR

Moeder Natuur klas ons skaap en sorg so vir ‘n aangepaste dier wat landswyd presteer. As sy haar job behoorlik doen, betaal ons ‘n prys, want baie ramme val deur die sif – maar gehalte word gewaarborg.“ Slegs 12% van ramlammers gebore, word op ons veilings aangebied.

Ons kopers kry dit reg om ‘n velddier te waardeer. “What you see is what you get.” Hoekom moet stoetboere eers ‘n ton mielies vir ‘n bul voer -  voordat ‘n koper die dier na waarde skat en bereid is om R300 000 vir hom te betaal. Kos trek maar net vir die dier dansklere aan - daarsonder gaan hy beslis nie slegter teel nie.

GROEI

In 2013 het Konsortium-Merino ‘n allemintige 891 ramme op ses veilings teen gemiddeld R5 363 onder díe handelsmerk verkoop. Dit is meer as 23% van MerinoSA se ramverkope.

Wie sou kon dink dat vier telers, wat in 2001 met 78 ramme op een veiling afgeskop het, die Merinomark mettertyd so sou oorrompel? Vandag verkoop ons groep die meeste ramme op amptelike veilings in Suid-Afrika en het die SA rekordomset vir ‘n Merinoramveiling reeds agt keer verbeter. Ons het ook die afgelope seisoen ons SA rekord vir die meeste Merinoramme op een veiling verkoop, na 333 opgeskuif.

SNY KOSTE & SPAAR GELD

Konsortium-Merino het alternatiewe bemarkingskanale beding wat boere keuses bied en geld spaar. Vandag kan ‘n Konsortium-boer sy wol direk aan Segard Masurel Suid-Afrika lewer vir verwerking in sy meule in Uitenhage, of sy wol op die openbare veiling in die wolbeurs aan te bied. As gevolg van die laer kommissiestruktuur het produsente, wat hul skeersels die afgelope seisoen deur SMZA bemark het, sowat R3  675 000 aan bemarkingskommissie gespaar. SMZA hef geen baalhanteringsfooi nie. Die R43 wat produsente per baal spaar, het ‘n verderre R985 000 in ons boere se sakke teruggeploeg. Dit is ‘n besparing van meer as R4,6 miljoen aan wolbemarkingskoste, net omdat ons as groep dit buite die gebaande weë gewaag het.

TROTS SUID-AFRIKAANS

Konsortium-Merino spog met sy eie suiwer Merinowolbaadjie wat  van "sheep to shop" 100% trots Suid-Afrikaans is. Die Konsortium-Merinowol word in Suid-Afrika geproduseer, gewas, gekam, gespin en geweef en ook hier in koel, liggewig wolbaadjies omskep. Nie net word werk geskep nie, maar waarde toegevoeg tot Suid-Afrika se landbouprodukte.

Die Cheetah-rugbyspelers is ambassadeurs vir die baadjie. Dit is in 'n klassieke styl en nommerpas vir elke generasie. Die baadjie is beskikbaar in drie kleure: Karoo, Middernag en Voetpad. 

Sover die groep weet, is dit die enigste suiwer manswolbaadjie wat in alle opsigte trots Suid-Afrikaans is. Weens goedkoper buitelandse arbeid word die meeste wolklere wat in Suid-Afrika verkoop word oorsee gespin, geweef of die klere daar gemaak.

BELÊ IN LANDBOU

Die direkteure van Konsortium-Merino het ‘n houermaatskappy in die lewe geroep, wat in terme van die Maatskappyewet van 2008, verlede jaar aandele aan die publiek uitgereik het. Via Konsortium Holdings Beperk kan baie meer boere en ander beleggers nou deel word van die Konsortium-Merino suksesverhaal. Dit bied ‘n geleentheid aan Jan Alleman om in grond en vee te belê, sonder om hom met die alledaagse bestuur van so ‘n bedryf te bemoei.

Ons soeke na ‘n anker-belegger duur voort. Die kapitaal wat verkry word, gaan deur Konsortium Holdings gebruik word om landbougrond en vee te koop en/of te huur en die boerdery-bedrywighede van die Konsortium só uitbrei. Die mikpunt is om ‘n 20% markaandeel in die Merinobedryf in Suid-Afrika te bereik en mettertyd genoeg wol, vleis en velle te produseer om die plaaslike en buitelandse vraag na Konsortium-Merinoprodukte te voed.

Ekonome meen ‘n belegging in landbou is ‘n uittsekende keuse. Voedselsekuriteit is ‘n bekommernis wat vandag se boer in ‘n geleentheid moet omskep.

SAAM BIED ONS MEER

Die Konsortium-span se passie en entoesiasme vir hul Merino's is aansteeklik. Vermeng dit met ‘n deurdagte besigheidsplan, toewyding en integriteit en jy besef gou hier is ‘n wenresep aan die broei. Ons groep het visie. Ons fokus op die verbetering van die Konsortium-Merinotipe, en die uitbouing van ons handelsmerk om groei en goeie geld vir almal in die Konsortium-familie te verseker.

“Konsortium-Merino wil nie ‘n klein vissie in ‘n groot poel wees nie. “Konsortium-Merino wil nie ‘n groot vis in ‘n klein poel wees nie. Konsortium-Merino wil die eerste vis wees wat op land loop.”

Ek moedig jul as veeboere aan om ook groot te dink. Waag dit gerus buite die boks. Wees oop vir verandering en omskep die probleme wat jul in die veebedryf ervaar in geleenthede. Stel doelwitte en maak planne om dit stap-vir-stap te bereik. Begroot vir ‘n wins en werk hard, want daar is geen kortpad na sukses nie.

“Know your past, Own your present. Choose your future.” Anon
 

View All News

website design & website hosting by nellen.co.za website engineers