Vir die telers
Die Konsortium-vennootskap hou verreikende voordele vir die telers in: - Hul genepoel en seleksie is groter.
- Meer topgehalte ramme word vir die stoet gekeur.
- Die beste ramme word met meer ooie gepaar.
- Ramme word jonger ingespan (KI op 12 maande).
- ‘n Ram word vir hoogstens twee parings gebruik, gegrond op die beginsel dat die nageslag beter as die vaar moet wees.
- Genetiese vordering vind gouer plaas.
Vir ons kopers
Dalk is die volgende rede genoeg om ‘n Konsortium-ram vir jou stoet of kudde te oorweeg: - Die Konsortium-vennootskap haal die raaiwerk uit Merinoteling deur doelgerigte individuele parings met tot 6 000 stoetooie jaarliks, wat ‘n wye keuse van topgehalte verkoopsramme aan die mark verseker.
- Twee produksieveilings word elke jaar in Februarie en in September aangebied.
- Slegs die nageslag van topstruktuur-stoetooie, wat met goeie bouvorm- en wol-eienskappe spog, word op hul veilings te koop aangebied.
- Besoeke aan honderde kopers die afgelope ses jaar bevestig hul ramme se positiewe impak op ander kuddes.
- Kuddeboere is veral opgewonde oor die verbetering van hul tipe (bouvorm + karkas) en wol (mikron + lengte + kwaliteit) sedert hul Konsortium-ramme inspan.
- Met soveel getuigskrifte in die sak, skroom die telers nie om vooruitgang, resultate en gepaardgaande winste met hul Merino te waarborg nie.
- Díe aanpasbare Merino verseker groei en gevolglik grootte.
- Vanweë die tipe se beter groeivermoë en vleisbouvorm kan ‘n boer sy Merinolammers vroeër bemark.
- In normale jare kan ‘n vyf maande oue hamellam op natuurlike veld 18kg tot 20kg aan die hak weeg. (swaarder onder hoër voeding)
- Die Konsortium-Merino se vleiskarkas kompeteer flink met die van vleisrasse.
- Die Konsortium-tipe skakel die behoefte om kruisteling te doen, uit.
- Die skaap spog met ‘n uitvoerproduk van gehalte.
- Die wollengte is van só ‘n aard dat ‘n boer elke agt maande ‘n A- of goeie B-lengte kan skeer.
- ‘n Lae mikron, goeie skoonopbrengs en gemaksfaktor verseker verder dat wolkopers ‘n premie vir díe wol betaal.
- Konsortium-teling verbeter boere se lampersentasies sodanig dat hulle surplusvee het om te verkoop.
- Die surplusvee is ‘n eenvormige tipe, wat as boerskaap bemark kan word.
- Die gladdelyf-Merino stel ‘n boer in staat om sy seleksiedruk só te verhoog dat hy sy ooie na slegs vier lam-kere kan verkoop. Slagwaarde word dus omskep in boerwaarde.
- Die Konsortium voeg waarde toe tot hul Merinoproduk deur naverkoopdiens te lewer. Op versoek word lojale kopers van raad bedien ten opsigte van ram- en ooi-seleksie, asook hul parings.
|