'n Unieke vennootskap wat 11 jaar gelede tussen vier Merinotelers van Victoria-Wes om ‘n braaivleisvuur bekragtig is, het die geboorte van die Konsortium-Merino ingelui en sedertdien een van die Merinobedryf se grootste genetiese suksesse opgelewer. Toe Gawie van Heerden van Dombietersfontein-Merino’s, John Luscombe van Grove-Merino’s, Vetties Esterhuizen van Victoria-Merino’s en Lukie Erasmus van Brandewynskuil in 1996 ooreengekom het om hul top stoetramme voortaan te verpoel, was dit die begin van ‘n suksesverhaal wat reeds talle van Suid-Afrika se silwermeriete Merinoramme en goue meriete vaars opgelewer het. Vandag verkoop Konsortium jaarliks die meeste Merinoramme op amptelike veilings in ons land. Met die afsterwe van Lukie Erasmus het sy seun, Christo, in 2001 sy pa se skoene gevul. In 2002 het Phil van der Merwe, na 42 jaar as skaap- en woldeskundige in diens van BKB, sy tuig neergelê en hom as vyfde teler by die span aangesluit. Onder leiding van Phil, hul stoetraadgewer en ‘n legende in die plaaslike bedryf, jaag díe span Gladdelyf-Merinotelers hul teeldoelwit van ‘n groot karkas met fynwol van gehalte met ywer en entoesiasme na. Die Konsortium stel hulle teoreties in staat om soveel vinniger as ‘n stoetboer op sy eie hul teeldoelwit te bereik. “Moet egter nooit dink as jy ‘n sekere punt bereik het, jy is daar nie,” meen die span. Hulle streef na vooruitgang en vier die lewe. Langs die pad word hegte vriendskappe met ander gesnoer. Kudde pluspunte - Die Konsortium-kuddes se onderskeie gemiddelde skeerselveseldiktes wissel die afgelope jare tussen 18.5 en 19.5 mikron. Wissellammers skeer 16.1 - 17.2 mikron wol.
- Die gemiddelde skoonopbrengs van hul hooflyne is 70% en meer, terwyl díe van ramme op hul veilings tot so hoog as 81% is.
- Hulle spog met lampersentsasies van meer as 100% vir hul onderskeie kuddes en tot soveel as 140% vir hul Merinostoeterye.
- Slaglammers word in normale jare van die veld af op 30 tot 40kg gespeen. In goeie jare kan hulle tot 50kg weeg.
Silwermeriete ramme Laasjaar het Konsortium 28% (27) van Suid-Afrika se 98 silwermeriete sertifikate ontvang. In 2003 is 23% (25) van Merino SA se 109 silwermeriete toekennings aan die span uitgereik. In 2004 is nog 15 tot hul lys gevoeg en in 2005 'n verderre 16 toekennings. Die beste 20% van alle ramme in ‘n prestasietoetsgroep kwalifiseer vir silwermeriete status indien hulle aan die volgende minimum vereistes voldoen: ‘n seleksie indeks% van 100, ‘n liggaamsgewig-indeks van 100, ‘n groei-indeks (GDT) van 100, skoonvag-indeks van 90, en ‘n veseldikte-indeks van minder as 105. Hulle word ook visueel beoordeel en moet van bogemiddelde standaard wees. Supervaars Sewentien van Konsortium-Merino se 26 goue meriete ramme pronk op SA se TOP 60 rangorde. Op November’2006 se Bayer-ranglys vir ramme in die nasionale Merino-nageslagtoetsskema draf nege van die Konsortium-ramme op grond van hul ekonomiese teelwaardes onder die TOP 25 vaars. Drie ramme: Staal, Windsor, en Bargain het ‘n relatiewe ekonomiese teelwaarde (Rev) van meer as R45. Sowat 612 vaars het vir die rangorde meegeding en meer as 21 550 van hul lammers se prestasies t.o.v. wol- en vleisproduksie is gemeet. Al die lammers is ook t.o.v. 11 wolkwaliteite en bouvorm-eienskappe visueel beoordeel. ‘n Goue ram se ekonomiese waarde dui op hoeveel R/c die ram se nageslag ‘n boer per lam meer in die sak sal bring, as die gemiddeld (nul) van die 21 554 lammers van die 612 vaars wat reeds getoets is. | Rangorde | Ram | Ekonomiese waarde | | 4 | Staal | R 58.66 | | 7 | Windsor | R 48.19 | | 9 | Bargain | R 47.28 | | 13 | Disaster | R 39.68 | | 17 | 007 | R 37.37 |
Landswye deelname
Die geskiedenis bewys Konsortium-telers se ramme presteer nie net in hul Karoo-wêreld nie, maar in veldramklubs en nageslagtoetse landswyd. Van Vrede in die Oos-Vrystaat, oor Winburg tot by Middelburg en Cradock in die Oos-Kaap en sover as Fraserburg in die Noordweste het hulle al die vrugte van hul samewerking gepluk. Die span neem tweejaarliks aan Merino SA se nasionale skou vir gemete produksie deel en ondersteun graag veldmerinoskoue in en buite hul streek om met ander Merino’s te kompeteer en met hul tipe te spog. Hier is vyf manne met ‘n passie en liefde vir Merinoteling wat hulle tot ‘n hegte eenheid saamgesnoer het. Saam bied hulle vandag se Merinoboer soveel meer. |