Eerste Konsortium-Merino raadgewers vir kliënteGeskep op: 29 Januarie 2008 Konsortium-Merino het sy eerste kliënteraadgewer aangestel en nou ook ‘n tweede kundige gekontrakteer om boere by te staan om hul kuddes sodanig te verbeter, dat dit aan die Konsortium-handelsmerk voldoen. Meer as 40 boere, met sowat 100 000 ooie, het sedertdien al by die Konsortium-span aangesluit.
Konsortium-Merino is die eerste Merinostoetery in Suid-Afrika om sy eie skaap-en-woldeskundiges aan te stel en sodoende waarde tot sy kliënte se boerderye te voeg. Cobus Vivier, voorheen van BKB en nou as Merinoraadgewer in die Konsortium-stal, se mikpunt is om gehalte te verseker, sodat die mark met vrymoedigheid Konsortium-genetika, -wol en vleis sal koop. Tommie Calldo, van CMW, word betrek om die standaarde van die Konsortium-handelsmerk by kliënte in die die Karoo te vestig en te beskerm.
Teen ‘n jaarlikse fooi van slegs R3 per ooi, verskaf die Konsortium-maatskappy ‘n veiligheidsnet aan sy boere. Dit sluit in: - top Merinogenetika;
- ‘n korting van 10% per ram, vir enige Konsortium-Merinoram wat aangekoop word;
- Konsortium-kundigheid, wat sal bydra tot finansiële vooruitgang;
- bystand ten opsigte van ooiseleksie, die keur van ramme en bestuur van skaapkuddes;
- toesig oor kuddes se vordering deur ‘n eenvoudige rekenaarmodel, wat die prestasie van kuddes meet, sodat boere weet hoe hulle verbeter;
- ‘n handelsmerk van hoë gehalte; en
- die bemarking van goedgekeurde ooie, wol en vleis onder die Konsortium-Merinohandelsmerk.
Alle wolboere kan van die Konsortium-raadgewersdiens gebruik maak. Die vrywillige kontrak word jaarliks hernu. Die fooi per ooi, kan per kwartaal of eenmalig vooruitbetaal word. Die fooistruktuur maak ook vir eenmalige konsultasies en dienste voorsiening bv. die eenmalige evaluering van ‘n kudde, of hulp met die aankoop van ramme en ooie by ander telers.
Die Konsortium-familie getuig van entoesiasme, toewyding en integriteit, wat hul versoen in ‘n span met visie. Hulle fokus op die verbetering van die Konsortium-Merinotipe, en die uitbouing van hul handelsmerk om groei en goeie geld in die sak te verseker. Hul dubbeldoelskaap spog met ‘n goeie vleiskarkas en lang wol van gehalte. Hulle is vrugbaar en pas landswyd aan.
Ses jaar gelede was daar net vier Konsortium-Merinotelers, wat met 78 ramme op een veiling afgeskop het. Vandag word jaarliks byna 500 ramme teen goeie pryse, op vyf amptelike veilings verkoop. Hulle bied elke jaar twee produksieveilings op Dombietersfontein aan, het vir Landbouskool Marlow onder hul veilingvlerk geneem, en die twee jaarlikse Triton Poenskop-Merinoveilings in Bloemfontein en Caledon gevestig.
Elkeen van Konsortium se ingetekende boere is nou deel van die groter prentjie - ‘n onmisbare stukkie van die Konsortium-legkaart. Konsortium se trefsin lui nie verniet nie: “saam bied ons meer… together we offer more…” Vir navrae bel Gawie van Heerden by 082 321 3233, Willouw van Heerden by 082 771 2008, of vir Cobus Vivier by 082 444 4388.
|