Reuse troppe ramlammers ingeskryfGeskep op: 29 Januarie 2008 Groepe van sowat 800 ramlammers elk sal voortaan op Biesjesfontein prestasietoets word om die beste 200 ramme vir Konsortium se produksieveilings te keur. Die res sal as kudderamme na die veilings op díe plaas verkoop word.
Konsortium se doelwit om meer ramme teen bekostigbare pryse aan sy kliënte te verskaf, is in die verlede beperk omdat ‘n maksimum van 320 ramlammers per veiling op Wolwekuil ingeskryf kon word. Die droom om meer ramlammers onder dieselfde omstandighede te toets, sodat die bestes veiling toe kan gaan en die res met vergelykbare data as kudderamme op een plek verkoop kan word, gaan nou ‘n werklikheid word.
Die plaas Biesjesfontein van Andrew Conroy, gaan voortaan Konsortium se ramtrots vanaf speen tot op tweetand-ouderdom huisves. Die eerste groep van sowat 800 ramlammers skuif op 1 Maart 2008 vir hul prestasietoetsing na Biesjesfontein. Die Herfslammers sal in September 2008 volg.
Waar daar in die verlede dus net 200 van die beste 320 ramlammers aangebied is - sal die beste 200 voortaan elke keer uit groepe van sowat 800 vir die veilings gekeur word. Na elke veiling sal nog sowat 300 kudderamme (uit hierdie groepe) op Biesjesfontein verkoop word.
|